
=====================================================================
Die wel en wee van Afrikaans se statusprys (AV 5:5)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Die wel en wee van Afrikaans se statusprys

Atri Carstens   vertel hoe die Hertzogprys, wat 'n enorme bydrae gelewer het om Afrikaans te help bevorder, amper vir kunsnaaldwerk 
toegeken is. Haar inligting kom uit die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se argiefmateriaal. Die Akademiegebou in Pretoria is verkoop, die 
vaste personeel het verskuif en 'n groot deel van die argiefmateriaal is na INEG in Bloemfontein oorgeplaas.

SEDERT die totstandkoming van die Hertzogtaalfonds (1913) en die instelling van die Hertzogprys (1914), tot en met 1960, toe besluit is tot 
die herinstelling van die driejaarsiklus soos ons dit vandag ken (posie, drama en verhalende prosa word roterend bekroon), was daar deur 
die jare etlike versoeke om die rente van die Hertzogfonds te gebruik vir nder doeleindes as die bekroning van bellettrie.

Die Akademie het in September 1915 besluit om 'n liederbundel saam te stel. Jan F.E. Celliers is gevra om sekere liedere in Afrikaans te 
vertaal. Aangesien vergoeding vir die werk ter sprake was en Celliers s "hy weet die Akademie is nie rijk nie", merk hy in 'n brief 
gedateer 21 April 1920 op dat die Hertzogprys een of twee keer nie toegeken is nie omdat ingelewerde werk nie van hoogstaande gehalte was 
nie. Hy verneem of daardeur nie geld beskikbaar geraak het waaruit betaling kon geskied nie. Die Akademie se finansile verslag oor die 
tydperk 1919/1920 dui egter nie aan dat sulke vergoeding uit die Hertzogtaalfonds betaal is nie.

Gedurende 1920 het die Nasionale Pers finansile steun gevra vir die uitgee van 'n Afrikaanse woordeboek. Volgens die uitgewers sou 2 500 
nodig wees vir redaksie- en algemene koste. F.V. Engelenburg het by wyse van die Akademieraadsverslag tydens die Desember 1920-
jaarvergadering voorgestel dat van die Hertzogfonds se geld daarvoor gebruik word. Die raad het sy volle steun aan die projek toeges, maar 
aanbeveel dat liewer 'n afsonderlike bedrag vir die woordeboek beskikbaar gestel word, want die Akademie sou dit "ten zeerste betreuren 
indien er verandering moest komen in de bestemming van de rente van het Hertzogfonds". Volgens hulle was niks in daardie stadium van 
volksontwikkeling so noodsaaklik soos die aanmoediging en ondersteuning van digters en skrywers nie.

Gerard Moerdyk het hom by die Akademiejaarvergadering van 1927 ten gunste daarvan uitgespreek dat die Hertzogprys ook beskikbaar gestel 
moes word vir musiek en die boukuns. Jare later, in 1960, het Chris Tidmarsh gevra dat die Akademie dit oorweeg om 'n prys (Hertzogprys) 
toe te ken aan mev. C.B. van Wyk vir haar baanbrekerswerk in verband met kunsnaaldwerk. Sy het besondere louere in Mei 1960 by die 
Uniefeestentoonstelling in Bloemfontein ingeoes en is reeds buitelands erken. Die Vrystaatse Vroue-Landbou-Unie het dieselfde versoek 
gerig. Hierdie 1927- en 1960-voorstelle is telkens afgekeur, maar die instelling van die Akademie se erepennings en besondere erepennings 
het voorsien in die behoefte om prestasie op ander gebiede te vereer.

In sy hoedanigheid as Akademieraadsvoorsitter het Engelenburg in verband met die Akademie se 1928/1929-ouditeursverslag, wat by 'n 
raadsvergadering in April 1930 voorgel is, opgemerk dat die ouditeur tereg wys op die onsekerheid van bestemming vir die Hertzogfonds se 
onuitgegewe rente. Engelenburg stel voor dat generaal J.B.M. Hertzog gevra word om in te stem tot 'n reling waarvolgens rente van die 
fonds wat nie aan pryse bestee word nie, by die Akademie se ander inkomste gevoeg word. Die reaksie hierop was dat die rente nie heeltemal 
genoeg was om die prys en die beoordelingskoste te dek nie. Die verklaring vir die "Balans rente op Hertzogfonds" was dat die prys nie 
altyd toegeken is nie. By gereelde toekenning sou die opgeloopte rente vanself verdwyn en is dit wenslik geag om die rekening te hou soos 
dit was.

Die Akademieraad het op 25 Junie 1931 besluit dat Hertzog versoek sou word om meer "elastiese voorwaardes" aan sy skenking te gee sodat "'n 
groter veld" geopen kon word vir die "resultate" van die Hertzogfonds. Engelenburg noem in 'n brief gedateer 5 Augustus 1931 aan dr. E.G. 
Jansen dat die rotasiestelsel waarvolgens letterkundige werke in aanmerking kom vir die Hertzogprys, in "outomatiese, masjinale, relmatige 
opeenvolging" plaasvind, terwyl nder dinge op daardie tydstip finansiering mr nodig gehad het tot opbou van die taalbelang. D.F. 
Malherbe het kort tevore skriftelik gewys op die skreiende behoefte aan Afrikaanse teksboeke in die handels- en regsvakke, asook in die 
natuurwetenskappe. Engelenburg wou by Jansen weet of Hertzog oorgehaal kon word om sy skenkingsakte s te wysig dat dit die Akademieraad 
sou vry-staan om die inkomste uit die Hertzogfonds "volgens wisselende taal-omstandighede" vir die belangrikste behoeftes aan te wend. 
Jansen rapporteer dat Hertzog ni gene was om die begeerde verandering te maak nie, aangesien dit die oorspronklike bedoeling van die 
skenking sou verander.

Waar die Akademieraad in die aanloop tot die instelling van die Hertzogprys aanbeveel het dat die rente van die Hertzogfonds bestee word 
aan die aanmoediging en verspreiding van "nationale lektuur" -- geskiedkundig sowel as bellettristies -- is die bekroning van 
geskiedeniswerke by die finale ooreenkoms uitgesluit. Dr. Elizabeth Conradie stel in 1936 voor dat daar jaarliks 'n prys toegeken word vir 
die beste wetenskaplike publikasie op die gebied van taal, lettere en kuns of geskiedenis. Die voorstel is in beginsel aangeneem. Weens 'n 
gebrek aan fondse kon egter nie aan die besluit uitvoering gegee word nie.

Tog het die kwessie rondom die bekroning van historiese werke, asook ander wetenskaplike werke, aktueel gebly. In korrespondensie tussen 
I.M. Lombard, die Akademiesekretaris, en P.C. Schoonees, sameroeper vir die 1939-Hertzogprystoekenning vir prosa, is die vraag geopper of 
prosa nie mr insluit as net die romankuns nie, byvoorbeeld al die geskiedenisboeke wat in die Eufeesjaar oor die Groot Trek verskyn het. 
Daar was onsekerheid of Gustav Preller se werk en 'n boek soos Die Afrikaner en sy Taal deur J. du P. Scholtz uitgesluit moes word. N 
Lombard die skenkingsakte bestudeer het, het hy laat weet dat die toekenning beperk moes bly tot die romankuns.

In die meerderheidsverslag oor 1939 se toekenning is opgemerk dat historiese werke, onder andere Gustav Preller se "verdienstelike 
biografie" oor Andries Pretorius, buite beskouing gebly het as gevolg van die skenkingsaktebepaling, maar dat dit "geredelik toegegee" moes 
word dat party historiese werke van ho letterkundige gehalte was. Die kommissielede het aanbeveel dat voorsiening gemaak moes word vir die 
beoordeling van historiese prosa met insluiting van letterkundige geskiedenis en kritiek, asook werke van algemene aard. Die Akademieraad 
het Lombard en E.G. Jansen afgevaardig om Hertzog te nader insake die moontlike wysiging van die skenkingsakte sodat wetenskaplike 
geskrifte (waarby geskiedenis ingesluit is) ook vir die Hertzogprys in aanmerking kon kom. Op Desember 1939 se jaarvergadering is geen 
formele besluit geneem nie.

L.W. Hiemstra (sameroeper), H.v.d.M. Scholtz, E.C.N. van Hoepen en D.F. Malherbe is aangewys om 'n plan uit te werk in verband met 
bekroning van wetenskaplike werk. Op die raadsvergadering van 18 Junie 1940 rapporteer Hiemstra dat sy kommissie van oordeel was dat 
Hertzog in beginsel moes toestem tot verandering van die skenkingsakte voordat die kommissie 'n plan opstel. Daardeur sou onnodige werk 
voorkom word. Hiemstra het Albert Hertzog versoek om sy vader oor di saak te nader. As gevolg van moeilike politieke omstandighede in 
daardie stadium het Albert Hertzog dit aanvanklik nie raadsaam geag om die aangeleentheid met sy vader te bespreek nie, maar het die hoop 
uitgespreek dat hy daaraan aandag sou kon gee "sodra die bestaande politieke bekommernisse effens gelig het".

In 1941 het die Fakulteit vir Natuurwetenskap en Tegniek die Akademieraad versoek om die ongebruikte gedeelte van die Hertzogprysfonds 
beskikbaar te stel as 'n driejaarlikse prys vir natuurwetenskaplike werk. Die Fakulteit het in 1942 weer gevra dat die 
Hertzogprysskenkingsakte s gewysig word dat natuurwetenskaplike werk ook vir bekroning in aanmerking kon kom. Die versoek is nie 
toegestaan nie, maar in 1944 het die Fakulteit sy eie prys gekry - later die Havengaprys genoem.

Versoeke om die Hertzogtaalfonds te benut vir nder doeleindes as die bekroning van bellettrie het beperkte neerslag gevind in die 
ingrypende veranderinge met betrekking tot die funksionering van die Akademie en die toekenningsprosedure waartoe in Desember 1942 besluit 
is. Een verreikende besluit in 1942 was om die Hertzogprysgeld jaarliks om die helfte te verdeel tussen bellettrie en wetenskaplike 
prosageskrifte. Die twee groepe is oor tydperke van telkens vier jaar soos volg verdeel.

Afdeling A Bellettrie: Posie, Drama, Verhalende Prosa (novelle, roman, kortverhaal), Ander Kunsprosa (opstel, kritiek, causerie, 
reisbeskrywing, ens.).

Afdeling B Wetenskaplike Prosa: Taal- en Letterkunde, Kunsgeskiedenis en Musiek, Geskiedenis en Aardrykskunde, Teologie, Wysbegeerte, 
Sielkunde en Opvoedkunde, Sosiale en Staatswetenskappe.

Die bevordering van wetenskaplike prosa het wel ingepas by die skenkingsakte se oorkoepelende doelstelling om "de uitbreiding van de 
Afrikaanse Taal in Zuid-Afrika te bevorderen", en die Akademie se uitgebreide doelstelling van 1942 om, benewens die Afrikaanse taal en 
letterkunde, ook die wetenskap te handhaaf en bevorder. Dit was egter in stryd met die spesifieke bepaling om bellettrie te bekroon.

Uit Akademiebronne kan nie vasgestel word of Hertzog self voor sy dood in November 1942 ingestem het tot die verandering om die Hertzogprys 
beskikbaar te stel vir wetenskaplike werk nie. Die oorspronklike skenkingsakte het bepaal dat die Akademieraad, kuratore van die 
Hertzogfonds, n Hertzog se afsterwe die reg sou h om die akte te verander met dien verstande dat sodanige besluite eenparig moes wees.

Die bestemming van die Hertzogfonds se onuitgegewe rente het, soos in 1930, weer aandag geniet in 1942 se gewysigde toekenningsprosedure. 
Die Fakulteitsraad het daarop gewys dat die jaarvergadering se besluit om nietoegekende prysgelde in 'n reserwefonds te stort, volgens 
regsadvies ongeldig is. Die skenkingsakte het bepaal dat by nietoekenning die rente by die kapitaalfonds gevoeg moes word. Op aanbeveling 
van die Fakulteitsraad het die Akademieraad die betrokke prosedurebepaling in 1943 geskrap.

Met agt onderafdelings het die domein van die Hertzogprys te uitgebreid geraak. Beoordeling is bemoelik, veral van wetenskaplike werk in 
wyd uiteenlopende gebiede. Die waarde van die Hertzogprys as hoogste letterkundige bekroning van die Akademie was in gedrang, en in 1946 is 
besluit om afdeling B as deel van die Hertzogprys te skrap, maar om werk in die betrokke vakgebiede te bekroon met die Akademieprys vir 
Geesteswetenskappe (die latere Stalsprys). Die indeling van afdeling A is behou soos dit was, behalwe dat reisbeskrywings, wat toe nog 
onder "Ander Kunsprosa" geressorteer het, by "Verhalende Prosa" geplaas is. "Ander Kunsprosa" het in 1960 verval as die vierde 
Hertzogpryskategorie en is ook ingelyf by die Stalsprys. Die huidige driejaarsiklus is in werking gestel.

Met die daarstelling van ander Akademiepryse en -toekennings, en deur te hou by die oorspronklike skenkingsaktebepalings of, waar afgewyk 
is, daarna terug te keer, is verhoed dat die geld van die Hertzogfonds gebruik is, of kan word, vir enigiets anders as die jaarlikse 
bekroning van die skrywer of skryfster van die beste werk van bellettristiese aard in die Afrikaanse taal.   Atri Carstens werk aan haar 
doktorale proefskrif oor die SA Akademie.

Terug na bo

Prys ontstaan uit eis

DIE Hertzogprys het ontstaan uit 'n lastereis teen genl. J.B.M. Hertzog, wat later (van 1924 tot 1939) eerste minister van Suid-Afrika was.

As minister van onderwys in die Oranjerivierkolonie (die Vrystaat) n 1907 het hy daar 'n wet deurgevoer wat Hollands saam met Engels 'n 
verpligte skoolvak en onderrigtaal gemaak het. In 1909 het hy drie skoolinspekteurs afgedank wat na sy mening die behoorlike toepassing van 
die wet verhinder het. Die jaar daarop het Hertzog in die veldtog vir die verkiesing van die eerste Unie-parlement iets oor daardie 
aangeleentheid ges waaroor een van die afgedankte inspekteurs 'n lastereis teen hom ingestel het. Nadat die hof di eis met koste 
toegestaan het, het ondersteuners altesame 2 272 bygedra tot 'n fonds om Hertzog se regskoste te bestry. Die 1 200 wat daarna oorgebly 
het, het Hertzog in 1914 aan die Akademie geskenk. Die rente is gebruik om die Hertzogprys in te stel.  Prys ontstaan uit eis

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av5511.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Desember 1998 /// Hanteer praktiese taalprobleme menswaardig (AV 5:5) 
/// Oor vryheid en onvryheid (AV 5:5) /// Nederlandse boeke in Suid-Afrika (AV 5:5) /// Wie sal die verlossende woord spreek? (AV 5:5) /// 
Toonvenster van talent (AV 5:5) /// Hegte vriendskapsbande met Vlaandere gebou (AV 5:5) /// 'n Nuwe Afrikaanse webwerf (AV 5:5) /// 
Gehalteprodukte verdien sente (AV 5:5) /// Europese studie-ervaring is binne bereik (AV 5:5) /// Kroniek van twee gesprekke (AV 5:5) /// 
Die wel en wee van Afrikaans se statusprys (AV 5:5) /// Ons sing in Afrikaans! (AV 5:5) /// 'Aitjiebul' speel met taal (AV 5:5) /// 
Vrouekrag in die Suid-Kaap (AV 5:5) /// 'n Gees van fees in die lug (AV 5:5) /// 'n Skrywersoog op Kersfees (AV 5:5) /// Stel die land en 
al sy mense sentraal (AV 5:5) /// Slaan 'n slag vir Afrikaans (AV 5:5) /// 'Interessante tye' vra innovasie (AV 5:5) /// Veeltaligheid is 
'n bron van kennis (AV 5:5) /// 'n 'Oulap' se stories laat die taal vonkel (AV 5:5) /// Sport en sports vir joernaliste in Londen (AV 5:5) 
/// Ek en die lytest geneuk (AV 5:5) ///

